Reuse eiertekort in Europa

Duisende lêhenne moes van kant gemaak word in verskeie state van Europa weens die uitbreek van voëlgriep en was talle besighede skielik sonder voldoende voorraad.

Die Europese verbruikers kan verwag om vir ’n tyd lank aansienlik meer te betaal vir eiers tot die kuikens groot genoeg is om die produksie te hervat.

Die tekort word ook aangehelp deur die feit dat eiers eers gebruik moet word om lêhenne uit te broei wat dan nog grootgemaak moet word voordat produksie kan begin.

Die koste wat ondernemings en pluimveeboere moet aangaan om die krisis te oorbrug, beloop miljoene euro, en die Belgiese voedingsorganisasies het gewaarsku dat die eiertekort nog ’n geruime tyd kan duur.

Bakkerye ondervind ook ’n moeilike tydperk om voldoende vars gebak aan kliënt te lewer weens die tekort, en is verplig om weens die verhoogde koste, die gebak se prys opwaarts aan te pas.

Produsente ondervind ook ernstige probleme om kontrakte vir die lewering van eiers na te kom, en die verwagting is dat die toestand nog etlike maande kan voortduur.

Intussen is verneem dat gebiede in Suid-Afrika waar voëlgriep ook veroorsaak het dat duisende stuks pluimvee van kant gemaak moes word, ook ’n eiertekort sowel as hoendervleis tekorte teweeggebring het.