Plaasaanval in Ceres

Die VF Plus veroordeel die voorval waar ʼn plaasboer Maandag naby Ceres in die Koue Bokkeveld aangeval en ernstig beseer is ten sterkste en doen ʼn beroep op die polisie om alles moontlik te doen om die skuldiges so gou doenlik vas te trek, sê dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus in die Wes-Kaap.

In die voorval is mnr. IW van der Merwe deur ʼn groep mans in sy plaaskafee gedwing om sy kluis oop te sluit waarna hy aangeval en verskeie kere met ʼn mes gesteek is. Hy is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal.

Daar bestaan ʼn vermoede dat mnr. Van der Merwe deur ʼn groep seisoenale werkers van Lesotho aangeval is en dat hulle na die aanval gevlug het.

Dr. Mulder het ʼn beroep op boere gedoen om weens veiligheidsredes waar moontlik eerder van plaaslike arbeid gebruik te maak aangesien dié mense bekend is in die omgewing en nie maklik na ander landsdele of self oor die landsgrens kan vlug nadat hulle ʼn misdaad gepleeg het nie.

“Die VF Plus wil boere in dié provinsie ook maan om gedurig waaksaam te wees aangesien plaasaanvalle op enige plek in die land kan voorkom. Alhoewel dit in die Wes-Kaap veel minder as in ander dele van die land voorkom, beteken dit nie dit kan nie hier gebeur nie”, sê dr. Mulder.

Alhoewel die polisie sê dat hy voortgaan om prioriteit te gee aan plaasmoorde, is dit net lippetaal, aangesien die minister van polisie, Fikile Mbalula, meen die huidige stappe om boere te beskerm is voldoende, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Foto: Dr. Corne Mulder