Op die volksakker – Ongerieflike knyptang

Week na week word die Afrikaner verguis – aangesien die grondwet ons as tweedeklas kategoriseer, is dit “regmatig”, geoorloof in die “regstaat”.

Noodwendig trek mense saam en soek harder na oplossings.“Samewerking” word meer en meer gehoor.

Maar is dit noodwendig ʼn goeie strategie?

Dit is al te maklik om na oppervlakkige gemeenskaplike eienskappe te kyk en te dink die politieke party/e of burgerlike samelewing is deel van ʼn strategie na vryheid.

Dit is egter van kardinale belang dat ons die idioom waarin hulle “oplossings” aangebied word, duidelik sal verstaan.

Die FW de Klerk Stigting (en die persoon self) vertel aan elkeen wat wil hoor “…dit is nie wat ooreengekom is nie…”

Die destydse onderhandelingspan was uit hul diepte by die onderhandelingstafel – die ANC en hul Anglo-Amerikaanse befondsers het sirkels om die destydse NP-regering gedraf!

Verskeie (sogenaamde) opposisiepartye hou vol dat “…ons debatteer…”, “…ons praat met rolspelers…” en les bes wys hul graag na sogenaamde suksesse by die stembus (natuurlik nádat hulle twee dekades lank as “opposisie” toegesien het dat alles verval, sodat hulle hulself as “ridders” by die stembus kan voorhou).

Hulle het saamgewerk om hierdie sinkende skip op die dwaalkoers na die ysberg te plaas!

Kan ons stem vir die baster-resultaat van die Engelse progs en irrelevante nasionaliste wat begin Afrikaniseer?

Of vir ʼn party wat in 23 jaar niks gedoen het om die 1993-Akkoord deur te voer nie,  want buite die nuwe SA is daar nie miljoene Rande in parlementêre salarisse nie!

Terwyl ons belastings vermors word, “oortuig” burgerlike organisasies almal “…ons moet die grondwet sterker maak…” (natuurlik daardie selfde grondwet wat bepaal ons is tweedeklas in ons eie land).

En vakbonde staak … trou aan hul kommunistiese wortels.

Hierdie koor verlei opnuut nóg ʼn geslag van ons jong mense.

In 1992 het vele “JA” gestem ter wille van hul naderende pensioene.  In ʼn perverse selfkastyding het hulle die daaropvolgende geslag wysgemaak om, op maat van die “Madiba-jive”, deel te word van die oplossing!

En nou wat die Titanic-werklikheid nie meer ontken kan word nie, word ons wysgemaak “ … dit is nie wat ooreengekom is nie …”.

Die waarskuwings wat regdenkendes sedert 1992 probeer oordra het aan volksgenote word ewe skynheilig aangehaal – om te beweer die oorgawe aan die ANC was iets beter as wat ons nou het.

Selfs die ANC ringkoppe sing hulle eie refrein: Vandag se mislukking is die mislukking van individue – die “Mandela”-droom word steeds in die vooruitsig gestel (met gerieflike geheueverlies oor sý aandeel in tienduisende se dood, sy eie selfverryking en magslus).

Ons volk moet homself uit sy sluimering wakker skud.  Ons moet die koring van die kaf skei en ons moet die leuen-smouse onbeskroomd ontbloot vir wat hulle is – opportuniste wat hul welvaart bou op die bloedpoel van volksmoord, die pyn van die vele slagoffers van geweldmisdaad.

Oorlogs-woekeraars van 1902 wat herleef en geslag na geslag en teer op hul eie volk.

Gaan ons, die gewone volksgenote, die inbors openbaar om vir ons leiers uit eie geledere te kies, maar veral om weer soos in 1834-38, 1880-81, 1899-1902 en die 1930’s op te offer vir mekaar en ons kinders?