Ons kan steeds!

Die landwye protesoptrede teen plaasterrorisme, het ‘n paar positiewe gevolge waarvan ons, maar ook ons vyande, gerus kan kennis neem.

As ons kyk na die deelnemers daaraan, en die taal wat oor die algemeen gebruik is, is dit duidelik dat dit hoofsaaklik ‘n Afrikanerprotes was. Die feit dat ander hulle daarmee vereenselwig het, word uiteraard verwelkom, maar maak dit nie minder van ‘n Afrikaner aangeleentheid nie. Dit is immers veral Afrikanerboere wat die slagoffers is van die plaasterrorisme.

In die eerste plek het die optrede dus bewys dat die Afrikaner nie heeltemal sy wil of vermoë tot verset verloor het nie.

In die tweede plek het dit bewys dat die Afrikaner sy basiese beskaafdheid nog nie verloor het om aan te pas by die dikwels barbaarse Suid-Afrikaanse toestande. Die protesoptrede was oral beskaafd en vreedsaam, terwyl daar tog ‘n duidelike boodskap uitgestuur is, naamlik dat ons mense baie naby aan ‘n breekpunt is. Dit was nie nodig om daardie ferm standpunt gewig te gee deur klippe te gooi, bande te brand of voertuie om te keer en uit te brand nie. Dit het gister se protes onderskei van die proteste wat daagliks in die land voorkom, soos wanneer die taxi’s staak, of vakbonde of gemeenskappe protes lewer en ‘n spoor van vandalisme nalaat.

Die protesoptrede het ook weer duidelik gewys wie is vriend en wie is vyand. Natuurlik het ons geen opportunistiese verwagting gehad dat die EFF, BlackFirstLandFirst, Cosatu, ANC of SAKP hierdie optrede sou steun nie. Die feit dat hulle dit egter almal afgekeur het, beteken dat hulle daarmee die plaasterrorisme goedkeur, en ons boere moet daarvan kennis neem. Die plaasmoorde gaan nie ophou nie, en ons boere moet mobiliseer asof hulle in ‘n noodtoestand verkeer.

Op die meeste plekke is die inisiatief vir die optrede deur individue in die gemeenskap geneem. Dit beteken dat mense wel kan saamstaan as die nood druk, en dat dikwels verdelende organisatoriese of partypolitieke grense inderdaad oorgesteek kan word.

Wat egter wel tot ‘n mate teleurstellend was, is dat veral die Kaapse organiseerders, so ‘n bietjie begin skrik het vir die gevolg van die protes, en het toe gepoog om dit ‘n protes teen “alle misdaad” te maak. Hierdie polities korrekte poging het egter misluk, want almal, selfs die verlinkse media, het die protesoptrede gesien in die lig van die plaasmoorde en –aanvalle.

Natuurlik sal enkele voorvalle buite verband geruk word, soos waar daar ‘n enkele ou Republiekvlag gesien is of waar Die Stem gesing word. Waarom maak daardie grootmond kritici nie dieselfde lawaai as daar by swart protesoptrede gedreunsing word “Kill the farmers” nie? Ten minste was die byeenkoms met ou landsvlag en Die Stem steeds vreedsaam en waardig, en daardie simbole beklemtoon juis die verskil: die ordelikheid en vreedsaamheid van daardie bedeling, teenoor die wetteloosheid van die huidige bedeling.

Maar seker die belangrikste boodskap van alle is dat ons steeds kan.

Ons kan saamstaan.

Ons kan nog verset pleeg wanneer nodig.

Ons kan steeds waardig ons duidelike standpunt oordra.

Ons kan ook paaie toemaak wanneer nodig. Dit is nie iets wat tot wettelose taxi’s beperk is nie.

Neem dus kennis dat die Afrikaner nie heeltemal gaan lê het nie.

Hierdie behoort egter nie beperk te wees tot een enkele gebeurtenis nie, maar moet die begin wees van rollende massa aksie van ons mense teen elke vorm van onreg wat teen hulle gepleeg word deur die ANC-bewind.