Nederlandse kabinet bly broos

Die koalisieregering wat pas saamgestel is met vier politieke partye, is ’n brose samestelling wat op enige stadium die Nederlandse eerste minister tot ’n val kan bring.

Premier Mark Rutte se nuwe koalisieregering beskik oor ’n meerderheid van ’n enkele stem in die parlement, en indien daar een parlementariër besluit dat die koalisie se koers onaanvaarbaar is, sal Rutte nie verder kan regeer nie.

Nederland sukkel reeds meer as 220 dae om ’n koalisieregering saamgestel te kry, en wekelange onderhandelings is gevoer deur die premier om met die verskillende politieke leiers tot ’n finale ooreenkoms te kom.

Geeneen van die talle splinterpartye is bereid om saam met die grootste opposisieparty van die nasionalistiese Geert Wilders saam te werk in ’n koalisie nie, en Wilders het herhaal dat hy geen enkele sentimeter sal afwyk van sy beleid om ander partye te akkommodeer nie.

Waarnemers sê dit is net ’n kwessie van tyd voor die nuwe koalisie uitmekaar val, en indien dit nie gebeur nie, sal ’n beleid van pragmatisme gevolg moet word wat al die partye welgeval.

Foto – Premier Mark Rutte