Motorrubriek – Audi RS3 Quattro S Tronic

 

Wanneer daar gekyk word na die werkverrigting syfers van die Audi RS3 Quattro, kom ‘n mens onder die indruk dat die Audi ingenieurs deeglike huiswerk gedoen het.

Hierdie kompakte sedan is gebou op die Volkswagen groep se MQB onderstel en ander motors wat op dieselfde onderstel gemonteer is, is die Q2 en ook die Golf 1,0 TSI. Die dwars gemonteerde 5 silinder,  2,5 liter, turbo aangejaagde, petrol kragbron sorg dat daar vuurwerke onder die enjinkap plaasvind. Om van 0 tot 100km/u te versnel in net nagenoeg 4 sekondes, wil gedoen word. Deur gebruik te maak van ‘n groter volume turbo-aanjaer, is ‘n bykomende 24 kW beskikbaar gestel en die totale krag is nou 294 kW teen 5850 o.p.m. Dit is beskikbaar tot by 7000 o.p.m. en die wringkrag van 480 Nm is beskikbaar tussen 1700 en 5850 o.p.m.

Deur gebruik te maak van aluminium komponente i.p.v. die voorheen grafiet-yster komponente, is die enjin nou 25 kg ligter. Daar kan verwag word dat dit ‘n negatiewe invloed sou veroorsaak op die padhouvermoë, dit is egter nie die geval nie. Dit het eintlik verbeter. Die MacPherson stutte met spiraalvere voor sorg dat die motor te alle tye goed reageer op stuurwiel insette.

Die Quattro stelsel met die sewe spoed ratkas sorg dat alles seepglad verloop. Daar is verskillende keuses wat uitgeoefen kan word vir rat kiesing en dit wissel van standaard, normaal tot S kiesing en dit kan gedoen word met die pedale aan die agterkant van die Alcantara bedekte stuurwiel.

Wanneer die S posisie gekies word, vertrek die motor met krag sonder dat die 255/30 R 19 Pirellis ‘n geluid maak.  Die wiel glip is behoorlik onder beheer. Die Audi benodig dan slegs 2,24 sekondes om van 60 na 100 km/u te versnel. Selfs die klank wat by die uitlaat pype uitkom vertel vir jou hard en duidelik dat daar nou dinge onder die enjinkap gebeur. Twee flappe in die uitlaat pype wat oopmaak, sorg daarvoor.

Die 370mm geventileerde skywe voor en die 310 mm geventileerde skywe agter, ABS met EBD en EBA ondersteunde remstelsel, sorg dat die motor met gemak tot stilstand gebring kan word.

Die binne afwerking is van hoogstaande gehalte en die S Sport sitplekke sorg dat die bestuurder en sy passasiers ‘n gemaklike sit posisie kan in neem met meer as genoeg been plek vir die agterste passasiers. Al die instrumente is reg voor die bestuurder gemonteer en is duidelik leesbaar deur die bokant van die drie speek stuurwiel. Die plat gedeelte aan die onder kant van die stuurwiel sorg dat daar meer beweeg ruimte is vir die bestuurder en al die toerusting soos die aanraak skerm, die rathefboom, radio, lugversorger ensovoort is binne maklike bereik van die bestuurder.

Hierdie is ‘n motor vir die motor entoesias met “petrol” in sy are en alhoewel dit eintlik ‘n sportmotor is in die ware sin van die woord, is dit ook ‘n gesinsmotor wat met gemak in die dorp of stad gebruik kan word. Met ‘n prys van onder die R1 miljoen kan u dit gerus gaan neem vir ‘n padtoets en heel moontlik skaf u nog een aan.