Misdaadland

Die vrystelling van die misdaadsyfers deur die grootpraterige minister van polisie, was maar net die bevestiging van wat elke inwoner (en meeste toeriste) van Suid-Afrika al weet en beleef.

Een van die provinsiale LUR’re het boonop erken dat alle misdaad nie eens aangemeld word nie omdat daar geen werklike vertroue in die polisie is nie. Die syfers wat dus bekend gemaak is, is dus hoogs onbetroubaar.

Neem daarby dat stasiekommissarisse van die polisie die misdaad aanmeldings moet kook om goed te lyk, dan is die werklike prentjie waarskynlik baie meer skrikwekkend as wat dus wel in die parlement voorgehou is. Die sogenaamde algehele daling is dus misleidend, indien nie ‘n pertinente leuen!

‘n Senior offisier en stasiekommissaris van die polisie het onlangs teenoor Die Vryburger erken dat syfers gekook word. Stasiekommissarisse se prestasies word gemeet aan die misdaad wat aangemeld word.  Wanneer meer misdaad aangemeld word omdat mense vertroue het in die betrokke polisiestasie, word die bevelvoerder daarvoor gepenaliseer. Dus word daar in baie gevalle moeite gedoen om klaers te oortuig om eerder geen saak te registreer nie. Die evaluasie word deur ‘n rekenaarprogram gedoen en is dus ook geen ware weergawe van die prestasie of gebrek daaraan van ‘n bevelvoerder.

Dit is met hierdie agtergrond dat die misdaadsyfers met ‘n knippie sout geneem kan word, want die werklikheid is hoër.

Fikile Mbalule se waarskuwing aan misdadigers dat “ons kom vir julle”, is praatjies vir die vaak. Die polisie het daardie kapasiteit verloor, omdat hy kundigheid weggejaag het.

Dieselfde stasiekommissaris het aan Die Vryburger gesê dat die gehalte van opleiding baie swak is, en dat die kundigheid besig is om vinnig uit te sterf. Binne vier tot vyf jaar sal die laaste kundigheid van die ouer, goed opgeleide polisielede, ook weg wees.

Dieselfde geld by justisie. Ook daar wag die goeie en goed opgeleide staatsaanklaers en landdroste net vir hulle pensioendatum en stel nie belang om ‘n dag langer te werk nie.

Dit beteken dat die hele wetstoepassing van die land op die rand van ineenstorting huiwer, en dat die toestand net gaan verander tot totale anargie in drie tot vyf jaar.

Dit beteken dat burgers al hoe meer aangewese gaan wees op hulle eie veiligheid, maar daar sal uiteindelik geen geregtigheid meer plaasvind nie. Trouens, dit is nou reeds so. Moordenaars het die reg op lewe verwerf onder die huidige grondwet van die land, maar die slagoffers se reg is hulle ontneem. Dan word misdadigers byna vinniger op borg vrygelaat as wat hulle aangekeer word, dus het die gemeenskap in wese geen beskerming nie.

Daar is private ondersoekmaatskappye, soos bv. HPG wat uitstekende werk doen om plaasaanvalle op te los, maar hulle moet hulle ondersoek, saam met die verdagtes, uiteindelik oorhandig aan die polisie, wat weer moet oorhandig aan justisie, en as misdadigers nie daar reeds wegkom nie, word tronkdeure voortydig oopgeswaai vir ongerehabiliteerde misdadigers, want tronke is oorvol en nuwes kan nie gebou word nie, want Zuptas steel die staatskas leeg.

Hierdie is simptome van ‘n siek bestel, waarin Afrikaners teen hulle sin ingedwing en in verraai is.

Uiteindelik is selfbeskikking die enigste oorlewingsoplossing vir ons volk. Die Koerde, Katalane, Skotte, Vlaminge en sekere gebiede van Italië trek aandag met hulle selfstandigheidstrewe. Die tyd is ryp dat ons daardie strewe ook meer tot uiting bring. Ons verdien ‘n eie, doeltreffende polisiemag, regverdige strafregstelsel, en gevangenisse waar geharde misdadigers hulle verdiende loon moet kry, maar ook die geleentheid om werklik te rehabiliteer.

Elke dag wat ons langer neem om ons vryheidsaksies op dreef te kry, vloei daar meer van ons mense se bloed in die land…