Macron waarsku EU teen nasionalisme

Die sosialistiese Franse president, Emmanuel Macron, het klaarblyklik paniekerig ’n waarskuwing tot die Europese Unie gerig om te waak teen nasionalisme.

Macron sê die Europese Unie mag nie “terugkeer” na die era van nasionalisme nie, maar het nie aangedui of hy sy vêrlinkse sosialistiese oortuigings die norm wil maak nie.

Hy reken groeiende verdeeldheid onder lidlande en die afwesigheid van “gesamentlike projekte” is die EU se grootste risiko.

Tydens sy onderhoud met die Duitse uitsaaier, ZDF, het Macron gesê die “terugkeer na nasionalistiese belange is die swakste opsie vir Europa.

Hy het bygevoeg dat die nasionalistiese (populistiese) partye se opkoms in talle lande ’n werklikheid is omdat hulle deur die middelklas gesteun word.

Die radio onderhoud kom etlike dae nadat die Franse president ’n deeglike pak slae gekry het toe sy politieke party uiters swak gevaar het in die verkiesing van senatore vir die Franse Senaat.

Meningsvormers is van oordeel dat die Franse president se invloed uiters beperk is en geen uitwerking het op die groeiende tendens wat nasionalisme in Europa ondervind nie.

Politieke ontleders sê Macron se neiging om die 19 eurozone  lande in ’n algehele onafhanklike liggaam te vestig met ’n eie parlement, is ’n poging om sy mag te bou in Europa.

Foto – Emmanuel Macron