Krisis in Katalonië veroorsaak verwarring

Die Krisis in Katalonië is besig om verwarring en chaos te veroorsaak wat nie net die kiesers van die streek raak nie, maar die hele Spanje in vertwyfeling het oor wat moet gebeur.

Die regering van president Carles Puigdemont is verdeeld oor wat gedoen moet word, en dit het daartoe gelei dat hy sy perskonferensie moes afstel.

Een deel van sy koalisieregering wil nou die onafhanklikheid laat uitroep, terwyl die ander daarteen gekant is en glo die regering moet wag op die reaksie van Madrid.

In Spanje is ewe groot verwarring, en die Spaanse eerste minister, Mariano Rajoy, se minderheidsregering is verdeeld oor die optrede wat gevolg moet word nadat die Senaat goedkeuring gegee het om Artikel 155 van toepassing te maak wat meebring dat Katalonië se regering geskors word en die streek deur Madrid regeer sal word tot by ’n volgende verkiesing in Katalonië.

Een deel van Premier Rajoy se regering wil die skorsing toepas, maar die konserwatiewes in sy regering is gekant teen die drastiese optrede omdat Katalonië nog nie die streek onafhanklik verklaar het nie.

Intussen verhoog die spanning, en met die ter perse gaan van die huidige situasie is daar ’n afwagting oor wat president Puigdemont in die Kataloniese parlement sal sê, veral omdat hy die uitnodiging van Madrid van die hand gewys het om sy saak te gaan stel voor die Spaanse regering.

Foto – President Carles Puigdemont