Kommuniste steeds sterk

Die ANC staatshoof Jacob Zuma se jongste kabinetskommeling, is niks anders ne as ‘n verstewiging van sy persoonlike mag, sonder dat hy enigsins daarmee ‘n beleidsverandering of verandering in ideologie teweegbring nie.

Inderdaad is die grootbaas van die Kommuniste, Blade Nzimande, die trekpas gegee, maar dit het niks met ‘n beleidsverandering weg van die kommunisme te doen nie. Zuma het Nzimande gepos omdat Nzimande een van sy grootste kritici was, en Zuma raak gewoonlik elegant van sy teenstanders ontslae. Zuma het egter ‘n ander kommunis in die kabinet aangestel sodat die SA Kommuniste Party (SAKP) nie moet voel dat hulle heeltemal uitgeskuif sal word nie.

Dit is dus duidelik: Zuma bly ‘n kommunis ten spyte van sy uitskuif van Nzimande. Daar gaan niks aan die beleid verander nie.

Dat hierdie skuif wel interessante nagevolge kan hê, is seker.

Aan die een kant, kan dit Zuma se persoonlike posisie verbeter met die oog op die Desember konferensie van die ANC. Zuma het al gedreig om homself vir ‘n derde keer beskikbaar te stel as leier van die ANC, sogenaamd om die party, wat hy verdeel het, te verenig.

Daar word druk bespiegel dat hy sy adjunk, Cyril Ramaphosa ook die trekpas kan gee. Hy begin hom reeds beskuldig dat hy ‘n spioen vir die Weste is.  Sou Ramaphosa om daardie rede afgedank word, kan hy hom selfs laat arresteer vir verraad en dan is daardie probleem van die baan.

Nkosazana Dlamini-Zuma het nou gesê dat sy Zuma nie sal “herontplooi” as sy partyleier sou word, soos wat Zuma met Mbeki gedoen het nie. Dit beteken dat die era van korrupsie en staatskaping verleng sal word tot en met die verkiesing van 2019. Hierdie moontlikheid kan die ANC baie stemme kos, en sal verseker dat die SAKP waarskynlik daardie verkiesing op sy eie gaan aandurf.

Dit kan dalk Mmusi Maimane van die DA se voorspelling laat waar word, naamlik dat die ANC minder as 50% van die stemme sal kry. Maar dit gaan beslis nie beteken dat die DA daardie stemme gaan kry nie.

Die SAKP se steun is nog nooit getoets nie, maar hulle het wel invloed, en dit is waarom daar altyd die nodige kommuniste in die kabinet was, om hulle knus onder die ANC se vaandel te hou. Daardie prentjie kan nou verander.

Die SAKP kan dalk meer stemme van die ANC wegtrek as wat hy kan bekostig. Inmiddels is die EFF ook nog hard besig om die ANC in diskrediet te plaas, met die gevolg dat hy ook nog enkele stemme van die ANC kan wegtrek.

Die DA gaan dan moet kyk na ‘n koalisie met of die EFF of die SAKP, wat sy beweegruimte erg gaan beperk en hom nog meer na links gaan trek.

Maar dalk nog ‘n erger prentjie, is dat die EFF en SAKP, saam met nog van die radikale kleiner partytjies, ‘n koalisie kan vorm. Dit is ‘n prentjie waaraan ‘n mens nie graag wil dink nie, want dit sal selfs Nkosazana Dlamini-Zuma se radikale ekonomiese transformasie na ‘n Sondagskoolpiekniek laat lyk.

Afrikaners gaan vinnig die moontlikhede na 2019 moet ontleed en daarvolgens optrede beplan en in plek kry. Daarvoor is baie groter eendrag nodig, en baie meer as die heersende oorweldigende stilte. Dit begin byna lyk of ons maar soos slagskape, doodstil, na die slagpale gelei word.