Kataloniërs maak hul keuse

Alle oë en ore was gisteraand gerig op die toespraak van die Kataloniese president, Carles Puigdemont in Barcelona waar hy aangedui het wat die pad vorentoe is vir die gebied.

Die spanning het toegeneem nadat hy die afgelope naweek daarop gewys het dat die kiesers van Katalonië gestem het ten gunste van afskeiding van Spanje, maar dat die regering van premier Rajoy weier om dialoog te voer tensy Barcelona die referendum nietig verklaar.

Die Spaanse regering wil nie onderhandel nie omdat die referendum ongrondwetlik is en derhalwe onwettig verklaar is, wat baie kiesers daarvan weerhou het om te gaan stem, en die 43% kiesers wat wel gestem het, is ’n minderheid van die totale aantal stemgeregtigdes.

Met beide leiers wat ononderhandelbaar hulle standpunte handhaaf, het die moontlikheid van dialoog vervaag, en is ’n verharding in die gesindheid waarneembaar.

President Carles Puigdemont het gisteraand in die Kataloniese parlement gesê hy verklaar Katalonië onafhanklik, maar dit is nie onmiddellik van krag nie aangesien die dialoog met al die belangegroepe eers gefinaliseer moet word.

In sy skitterende uur lange toespraak, het hy ’n deeglike oorsig gegee van die jarelange stryd om vryheid, en ten slotte gewys daarop dat die referendum wat gehou is, in gevolge die internasionale reg, heeltemal wettig was en dat al die vereistes nagekom is.

Foto – President Carles Puigdemont