Honger Afrika vra jonger, beter boere

Afrika se groeiende bevolkingsaanwas bring mee dat die kontinent meer boere moet lewer wat nie net bekwaam is nie, maar ook veel jonger is as die huidige geslag.

Daarbenewens is die ou tradisionele metodes om produksie te lewer wat voorsien aan die behoeftes van die boer en sy gesin, uitgedien en behoort trekkers en implemente saam met opgeleide jonger boere die voedselprodusente word.

Die siening is vervat in ’n verslag van leiers op ekonomiese gebied wat sê dat Afrika homself sal moet hervorm as hy sy groeiende bevolking wil voed, want die Eerste Wêreld gaan nie aanhou om hulle van lewensmiddele te voorsien nie, veral as dit sonder betaling gedoen moet word nie.

Die verslag wys daarop dat die “kleinboer” metode lankal uitgedien is en plek moet maak vir effektiewe gemeganiseerde boerdery, want Afrika beskik ook oor goeie landbougrond wat wag om benut te word.

Deskundiges wat in Ghana gesetel is, en die African Centre for Economic Transformation tot stand gebring het, meen die oorgang moet spoedig gedoen word as derduisende honger mense gered wil word.

Landboukenners in Suid-Afrika sê so ’n omwenteling is nie moontlik as die mense van Afrika nie ’n opleidingsprogram volg waarin boere, ekonome, handelaars en tegniese mense saam opgelei word om ’n totale omwenteling te bewerkstellig nie.

Na verwagting sal Afrika se bevolking teen 2060 verdubbel, en die wêreld sal nie aan die honger mense gratis kos kan voorsien nie.

In Afrikalande is landbouers se grond selde meer as 2 hektaar, maar die meeste boere bewerk slegs een hektaar om aan sy eie behoeftes te voorsien.

In die grootste deel van Afrika is daar hoogstens 1 trekker per 150 vierkante kilometer landbougrond, terwyl dit in Suid-Afrika sowat 65 trekkers per 150 vierkante kilometer is.