Boerderyvooruitsigte in Wes-Kaap benard

Die droogte in die Wes-Kaap is besig om sy tol te eis.

Druiweprodusente in die Vredendal/Lutzville/Klawer omgewing het slegs ‘n 20% toewysing van kanaalwater ontvang weens die lae vlak van die Clanwilliam dam (40%).

Dit beteken dat boorde wat tans begin bot nie benat kan word nie en die vooruitskatting is dat daar slegs ‘n 30% opbrengs gaan wees die komende seisoen.

Skaapboere staar die ergste droogte in 60 jaar in die gesig en kuddes word reeds gevoer.  Weigrond is uitgeput en areas rondom Vanrhynsdorp lyk asof dit Desembermaand is.

‘n Gemiddelde reënval van 48mm is vir die huidige jaar aangeteken met die reënseisoen wat reeds verby is.  Die gebied kry gemiddeld tussen 120mm en 180mm reën per jaar, dus is daar groot rede vir kommer.

Die toerismebedryf, wat afhanklik is van blomme, het ‘n daling van bykans 50% in besetting getoon.