Belgiese boer kweek reuse pampoen

Die Belgiese boer, Mathias Willemijns het Europa se grootste pampoen gekweek vir 2017, wat ’n allemintige 1 008 kilogram geweeg het.

Met die prestasie het hy die Europese Pampoen Kampioenskap gewen wat die afgelope naweek in die Duitse dorp, Ludwigsburg, plaasgevind het.

Die 24-jarige boer se pampoen was egter heelwat ligter as sy vorige reus wat hy verlede jaar gekweek het en wat die skaal op 1 190 kilogram getrek het.

Vanjaar se pampoen is gekweek oor ’n tydperk van net meer as 100 dae, en het soms so baie water nodig gehad op warm dae dat hy dikwels meer as ’n duisend liter opgedrink het.

Hy sê die pampoen het soms tot 30 kilogram op een dag by sy gewig gevoeg, en moes hy baie seker maak dat die knewel elke dag genoeg water kry.

Die tweede plek is ingeneem deur ’n Italianer, Stefano Cutrupi wie se pampoen 848 kilogram geweeg het, en in die derde plek was die Poolse deelnemer, Dominik Kedziak, wie se knewel 836 kilogram geweeg het.

Al die pampoene word opgesny en aan die omstanders uitgedeel.

Foto – Die wenner, Mathias Willemijns