Vyand uit, vriendin in

President Jacob Zuma het waarskynlik ‘n rustiger nagrus gehad nadat een van sy grootste kritici, die uitgesproke dr. Makhosi Khosa, uit die ANC bedank het, en dus outomaties haar pos as parlementslid sal moet prysgee. Sy het openlik gesê sy gaan die mosie van wantroue teen Zuma in die parlement steun.

Wat Zuma verder lekkerder laat slaap het, is dat sy voormalige vrou en aspirant-president, Nkosazana Dlamini-Zuma, as parlementslid beëdig is, wat sy posisie in die parlement verstewig. Die verwagting is dat hy binnekort ‘n kabinetskommeling kan aankondig om haar ‘n senior regeringsposisie te gee.

Khosa het tydens haar bedankingstoespraak gesê dat die ANC so korrup geword het, dat as behoorlike vervolging ingestel sou word, tussen 80% en 90% van die ANC leierstrukture op alle vlakke, in die tronk sou beland.

In reaksie op Khosa se bedanking en Dlamini-Zuma se inhuldiging as parlementslid, sê die hoofsweep van VF Plus, dr. Corné Mulder, dat dit ʼn duidelike prentjie skets van die morele laagtepunt wat die regerende ANC bereik het.

Dr. Mulder sê dr. Khoza het haarself bewys as ʼn beginselvaste en dapper vrou weens haar kritiek op pres. Jacob Zuma en die ANC.

“Nadat dr. Khoza onlangs in die openbaar gevra het dat pres. Zuma moet bedank, is daar selfs doodsdreigemente teen haar gemaak. Sy het haar nie daardeur laat afskrik nie. Onlangs het sy ook geweier om haar aan die tugprosesse van ʼn party te onderwerp wat sy as ‘korrup en beginselloos’ beskryf het.

“Daarteenoor het dr. Dlamini-Zuma gewys sy is bloot ʼn ANC-naprater wat vasbeslote is om die verdelende retoriek van die president na te volg met haar uitsprake oor onder meer wit monopoliekapitaal.

“Die ANC moet wéét dat elke moreel onregverdigbare optrede ʼn druppel is wat die glas van die kieserspubliek se argwaan vul, en die vrugte hiervan sal in 2019 by die stembus gepluk word,” sê dr. Mulder.

Foto: Makhosi Khosa