Potch kry tweede naamsverandering

Nie baie dorpe of stede kan spog met die uitsonderlike gebeurtenis om ‘n tweede naamsverandering te beleef nie.

Dit is egter die geval met Potchefstroom, waarvan die naam enkele jare gelede op omstrede wyse herdoop is na Tlokwe. Die munisipaliteit is later uitgebrei om Ventersdorp in te sluit.

Nou is daar weer ‘n naamsverandering op die tafel, en Tlokwe word nou verander na JB Marx.

Die VF Plus het beswaar aangeteken teen die naamsverandering en beskou dit as ʼn onnodige vermorsing van geld, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die party.

Dr. Groenewald sê Ventersdorp het groot geldelike probleme en die geld wat op die naamsverandering bestee gaan word, kon veel beter aangewend word om dienslewering, behuising en ander probleme op Ventersdorp te verbeter.

“Daar moet nou vrugtelose uitgawes aangegaan word soos briefhoofde, alle dokumentasie en naamborde wat verander moet word. Ventersdorp kon bloot ingeskakel word by Tlokwe sonder enige naamsverandering.

“Die VF Plus is in beginsel daarteen gekant dat persone se name gebruik word om plekke of strate te benoem. ʼn Nuwe regering kan byvoorbeeld nie daarvan hou dat JB Marks vernoem is nie, en sal dit weer wil verander. Dit is kortsigtig en neutrale name moet eerder gebruik word,” sê dr. Groenewald.