Kleinmond ‘n kookpot

Twee weke gelede, en sedert die afgelope Maandag (11 September 2017), heers daar ongekende anargie en geweld in die normaalweg baie rustige vakansiedorp Kleinmond in die Wes-Kaap.

Barbare het net eenvoudig totaal oorgeneem. Vullis word oral gestrooi; petrolbomme word vryelik gegooi; eiendom word aan die brand gesteek en vernietig; winkels word geplunder; daar word oor-en-weer tussen polisie en anargiste op mekaar geskiet; die berge agter die dorp is aan die brand gesteek; so ook die Kogelparkse Natuurreservaat, wat ‘n internasionale bewaringsgebied is, waar unieke plantegroei, wat nêrens anders ter wêreld voorkom nie, doodeenvoudig vernietig is; “erwe” teen die berghange word “uitgemeet” en vryelik uitgedeel.

Die inwoners van die dorp leef in vrees vir hul lewe. Mense, soos ek, wat vakansiebelange daar het, wag in spanning om te hoor wanneer by hul eiendomme ingebreek en dit gestroop sal wees…

En, natuurlik, vlieg die ekstrak van anti-Blanke rassehaat van “grond gesteel” en “onderdrukking onder apartheid” weer vryelik rond (hoewel waarskynlik nie veel, indien enige, van die betogers nog eers onder apartheid gebore was, laat staan nog dit beleef het nie).

Die plaaslike polisie kan die situasie glad nie beheer nie, maar tog is geen polisie- of weermagversterkings nog ingeroep of uitgestuur om die situasie te onderdruk nie.

Waarom nie? Of WIL die anargie gehê wees?

Die “rede” wat vir hierdie anargie aangegee word, is kinderagtig-belaglik. Glo iets te doen met ‘n tender vir vullisverwydering, of so iets, wat nie toegeken is aan ‘n plaaslike persoon wat hierdie anargiste kastig wou gehad dit aan gegee moes word nie. ‘n “Rede” vir barbaarse optrede soos hierdie, sal natuurlik altyd uitgedink en gefabriseer word. Die massamedia, en ongelukkig u ook, swyg in alle tale oor hierdie geweld. Waarom?

Kleinmond-vakansieganger

Pretoria

(U sal merk dat ons wel vandag daaroor berig het, nadat ons nou eers van die situasie bewus geword het, en steeds nie ten volle weet wat daar aangaan nie. Ons is egter aangewese op inligting wat ons kry van mense wat ons daarop wys. Ons het geen vaste verteenwoordigers of medewerkers landwyd nie en is aangewese op wat gewaardeerde vrywilligers, soos u, wat inligting oor die situasie het, aan ons verskaf. Ons sal graag enige nuus ontvang en dit publiseer. Dankie ook vir hierdie bykomende inligting wat u onder ons aandag gebring het. Ons publiseer dit graag. Red.)