Kallie Kriel/Afriforum veg vir model

Afriforum, wat volgens hul webtuiste die “regte van minderhede beskerm” en “spesifiek die regte van Afrikaners as ‘n gemeenskap  beskerm” gaan volgens hul HUB, Kallie Kriel, voort met hul aansoek teen Grace Mugabe vir haar aanranding op Gabriella Engels.

Engels is volgens “Facebook” ‘n model en beslis nie ‘n Afrikaner of deel van die Afrikaner gemeenskap nie.

Sy is (?) (was) nie lid van Afriforum of Solidariteit nie. Vanwaar die skielike obsessie om iemand buite jou dampkring te verdedig?  Het Afriforum Engels se “Facebook” bestudeer?  Kan sy as rolmodel voorgehou word vir ons en ons kinders?  Ek verstaan nie Kallie Kriel en Afriforum se beweegredes en motivering om by Engels betrokke te raak nie.

Sou Afriforum sy missie sien om mense te verdedig wat nie deel vorm van die Afrikaner se lewens- en wêreld beskouing nie, goed en wel, maar dan moet hulle hul doel en missie op hul webtuiste verander. Tans is dit misleidend om te spog dat jy die Afrikaner en Afrikanergemeenskap se regte wil beskerm en dan op die mediatrein spring om iemand se saak op te neem wat geen verbintenis of erg het aan ons kultuur en geskiedenis nie.

Wat van die Boere/Afrikaners wat in howe verskyn oor hul sg. “rassistiese” optrede?  Wat van die plaasmoorde – hoekom word die SAP en ANC nie gedagvaar oor blatante diskriminasie teen Afrikaners en hul kinders nie?

Gaan hierdie saak soos die Julius Malema saak (Afriforum/TLUSA vs Malema) gevoer word tot ‘n punt en dan ‘n “skikking” aangaan?   Gaan dit oor publisiteit? Word my maandelikse R 50,00 gebruik om andersdenkendes se saak op te neem?

Joop de La Rey

Verwoerdburg