Vreemde misleiding of bedrog?

’n Woord wat deesdae op elke denkende mens se lippe is, het menige in die war gebring oor ’n begrip wat jou letterlik dronkslaan.

Die woord Virtueel is nie net misleidend nie, maar sy wye toepassingsmoontlikhede laat die gevoel dat dit dalk iets te doen het met bedrog.

Die Nederlandse woordeboek deur Van Dale opgestel, heg verskillende betekenisse aan die “vreemde begrip” wat deesdae so baie gebruik word.

Virtueel kan beteken “slegs skynbaar bestaan”

Dit kan ook “moontlik en vermoedelik aanwesig” beteken.

In die juridiese wêreld beteken dit “uit die aard van die saak”.

Dit bring my by die sogenaamde virtuele geld soos bitcoin wat deesdae deur al wat mens is nagejaag word.

Nou is my vraag: Waarom hardloop mense hulle beenaf ( virtueel ) in ’n poging om ’n betaalmiddel soos bitcoin met Suid-Afrikaanse geld te koop as dit net skynbaar, of vermoedelik bestaan?

Dit slaan my dronk – en wat my geheel en al verlam, is dat daar mense is wat skatryk geword het met hulle virtuele handelstransaksies.

En asof dit nie genoeg is nie, is daar nou ook so iets soos “virtuele eiendom” waarvan daar klaarblyklik roerende en onroerende eiendom is, wat verkoop kan word en baie geld in jou sak kan beland – seker ook virtueel, ek weet nie!

Dan los ek die saak maar daar, met virtuele groete.

Gert Pretorius