Voldoende voorraad entstof vir vee

Onderstepoort se entstof afdeling het boere die versekering gegee dat daar in die komende seisoen geen tekort aan entstof sal wees nie.

Boere het die aankondiging verwelkom aangesien hulle in die afgelope paar jaar telkens veeverliese gely het omdat Onderstepoort nie voldoende voorraad entstof beskikbaar gehad het nie.

Onderstepoort het glo hulle siklus om entstof te produseer, na ’n 15-maande tydperk verleng vir entstof van bloutong, stywesiekte, knopvelsiekte, en entstof teen bosluis oorgedraagde siektes.

Ook rooiwater entstof sal nie enige tekorte ondervind in die komende seisoen nie, wat beslis ’n reuse verbetering is nadat boere baie beeste verloor het omdat die entstof nie betyds beskikbaar was nie.

Onderstepoort het vroeër gesê die tekorte het deels ontstaan weens die streng gehaltebeheer wat toegepas word, maar boere kon nie daarmee gesus word nie omdat die moontlikheid van groot veevrektes ’n geweldige risiko geword het.

’n Woordvoerder van Onderstepoort sê die verpakkingsmateriaal waarin entstof na kliënte versend word, is ook verbeter wat terugsendings en verdere vertraging van lewering uitskakel.