Venezuela se Prokureur-generaal afgedank

Die nuut saamgestelde parlementêre struktuur in Venezuela het beveel dat die prokureur-generaal van die land afgedank en vervang word met ’n persoon wat pro-regering is.

Prokureur-generaal Luisa Ortega Diaz, wat die grootste kritikus van president Nicolas Maduro is, se afdanking kom kort nadat sy besluit het om die uitslag van die verkiesing in die hof te betwis.

Luisa Ortega Diaz het aan die media gesê die land ondergaan ’n “staatsgreep teen die grondwet” en het ’n beroep op die volk gedoen om in verset te bly teen die regering en president Maduro.

Die 59-jarige Ortega Diaz het gesê sy sal volhard om te stry teen die onreg wat tans gepleeg word met die vryheid van die volk wat op die wyse bedreig word.

Waarnemers meen die vrou se vasberadenheid gaan lei tot ’n proses van vervolging, maar sy het gesê haar voortgesette stryd sal nie ophou voordat sy haar laaste asemteug uitgeblaas het nie.

Politieke ontleders sê die president is besig om die land as diktator te regeer, en die besware van Amerika en Europa het op dowe oor geval.

Foto – Protesterende  Luisa Ortega Diaz