Noord-Korea gaan voort met kernwapenprogram

Noord-Korea het aangekondig dat sy program van kernwapen ontwikkeling voortgaan “ongeag die omstandighede” waarin dit gedoen word.

Dit volg nadat die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad die “strengste moontlike sanksies” teen die land ingestel het wat ook deur Rusland en Sjina gesteun is.

Die Noord-Koreaanse minister van buitelandse sake, Ri Yong Ho, het ’n redelike skerp en aggressiewe houding ingeslaan toe hy die standpunt aan die media oorgedra het tydens sy besoek aan Manila.

“Noord Korea sal onder geen omstandighede die ontwikkeling van ballistiese missiele op die onderhandelingstafel sit nie”, het die minister gesê.

Hy sê die land sal nie ’n enkele duim afwyk van die weg nie, en die kernbom ontwikkelingsprogram word voortgesit ter beveiliging van die land teen moontlike Amerikaanse aggressie.

Die sterk standpunt van Noord-Korea het veroorsaak dat die land homself al meer geïsoleer het, en het waarskynlik net Sjina en Rusland se ondersteuning, wat waarskynlik ook met tyd geforseer kan word om hulle beleid te wysig.