Noord-Korea dreigement word gevaarlik

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Noord-Korea in ’n skerp bewoorde verklaring gewaarsku om nie voort te gaan met sy dreigemente teen Amerika nie.

Trump het gesê die regime van Pyongyang kan reken op ’n “vuur en woede soos wat die wêreld nog nooit aanskou het nie” as hy nie sy dreigemente teen die VSA gaan staak nie.

Enkele ure later het Noord-Korea teruggekap met ’n volgende dreigement dat hy die eiland van Guam, in die Stille Oseaan, waar die VSA ’n militêre basis het, sal aanval.

In ’n verklaring dreig die kommuniste dat hulle dit “ernstig oorweeg om ’n aanval uit te voer teen die eiland om as waarskuwing te dien vir Washington”.

Kim Jong-Un het glo gesê die aanval kan enige oomblik kom as hy die groen lig daarvoor gegee het.

Die vermoede bestaan dat ’n middelafstand missiel bekend as die Hwasong-12 daarvoor gebruik sal word.

Die dreigement van Pyongyang het ook reaksie van Japan ontlok en die minister van verdediging het daarop gewys dat die wapenprogram van die skiereiland ’n nuwe bedreiging inhou vir wêreldvrede.

Kenners wys daarop dat Sjina en Rusland swyg oor die aangeleentheid, maar dat Sjina vroeër gesê het hy meng nie in nie, en die VSA moet die probleem oplos wat hy voel bedreig.

Politieke ontleders sê egter die kommunis geniet die woordestryd en probeer die volgelinge beïndruk, maar dit nie sal waag om met sy swak toerusting ’n aanval uit te voer nie aangesien die VSA vernietigend sal optree teen so ’n daad.