Merkel sus kiesers voor verkiesing

Bondskanselier Angela Merkel van Duitsland staan weer as kandidaat vir die koalisieregering van haar Christen Demokrate saam met  die Christen Sosiale Unie, en die verwagting is dat sy weer die septer sal swaai in die September verkiesing.

Sy was die middelpunt van ’n vraag en antwoord program op een van die Duitse TV kanale, waartydens sy aspekte moes beantwoord oor veiligheid, immigrasie van sogenaamde vlugtelinge en terroriste, asook Volkswagen se dieselskandaal.

As gesoute politieke leier, het Merkel alles gesê wat kiesers graag wil hoor oor die besonder onderwerpe wat die groei van die nasionalistiese party, die Alternatief vir Duitsland gestimuleer het in die afgelope vier jaar.

Te midde van haar goeie antwoorde wat klaarblyklik vooraf uitgewerk is om kiesers te paai, toon meningspeilings dat sy wel weer as Bondskanselier verkies gaan word, maar met ’n verkleinde meerderheid.

Merkel staan vir ’n vierde termyn as Bondskanselier, en sal waarskynlik meer gehoor moet gee aan die koalisievennote van Bavaria se verwagtinge.

Op ’n vraag wat haar regering gaan doen om groter veiligheid te verseker, het sy rondgetrap met beloftes van deurlopende polisiëring en die aanwend van gevorderde tegnologie.

Sy het ook gesê sy is kwaad omdat Volkswagen se dieselskandaal die soeklig op Duitsland hou, wat beslis onnodig was en moes nie gebeur het nie, en verwag van die vervaardigers om voertuig eienaars te vergoed vir hulle skade.

Waarnemers wys daarop dat Merkel minder entoesiasties was oor die onwettige immigrante en het nie probeer om haar oop deur benadering te propageer nie.

Foto – Kanselier Merkel