Kommuniste se kernwapens in nuwe fase

Japan het gewaarsku dat die bedreigings van Noord-Korea met sy kernwapens “as ’n nuwe stadium” gesien moet word wat die wêreldvrede bedreig.

Met Noord-Korea se eis dat sy ballistiese missiele enige teiken in die Verenigde State kan bereik, word die land as ’n algehele bedreiging vir Westerse lande gesin.

In ’n afsonderlike verslag van die Japanse minister van verdediging, word daarop gewys dat Pyongyang nou oor die vermoë beskik om klein kernkoppe op sy vuurpyle kan monteer om enige plek ter wêreld te ontplof.

Die ontwikkeling is aansienlik vinniger bereik as wat Westerse ontleders gedink het toe voorspel is dat die skiereiland se kommuniste so ’n mylpaal eers oor 10 jaar sal bereik.

Die minister sê in sy verslag die Noord-Koreaanse ontwikkeling van ballistiese missiele en hul kernkrag program word in ’n toenemende mate problematies vir die hele streek waarin Japan hom bevind, maar dit is ook vir die res van die wêreld ’n ewe groot gevaar.

Japan wys daarop dat die skiereiland reeds meer as 20 missiel toetse uitgevoer het  die afgelope jaar, en vermoed dat die toetse sal voortgaan in die jaar wat voorlê.

Terwyl sekere deskundiges meen dat Noord-Korea reeds oor die vermoë beskik om interkontinentale missiele te lanseer, is daar ander wat sê dit gaan nog baie jare neem voor hulle die mylpaal bereik.

Foto – Kim Jong- Un