Hommeltuig plant honderde bome

Die Britse maatskappy, BioCarbon Engineering het aangekondig dat hy ’n hommeltuig kan “programmeer” om bome te plant teen ’n tempo wat minstens ses keer vinniger is as wat mense dit kan doen.

Met Brittanje se plan om behulpsaam te wees met ’n boomplantprojek in Mjanmar, sal ses van die “boomplant hommeltuie“ sowat 100 000 bome per dag kan plant.

Gedurende die afgelope paar jaar is met die hulp van Worldview International Foundation alreeds meer as 2,7 miljoen bome in die delta van die Irrawaddy rivier geplant in ’n gebied van 750 hektaar.

Nou gaan die bome met hommeltuie geplant word om die tempo van aanplanting te verhoog, maar daar sal eers vooraf bepaal word watter soort bome geplant gaan word wat die beste aard in die omgewing.

Die hommeltuie se gebruik is nie net meer doeltreffend deur ’n vinniger aanplanting nie, maar is ook ’n groot kostebesparende metode en sal na raming slegs 15% beloop van wat tot hede betaal is vir aanplantings.