Eierkrisis word ondersoek

Donderdagoggend het ondersoekers en die federale polisie van België begin met deeglike ondersoeke by hoenderboere in Oos-Vlaandere en Kempen op soek na die oortreders wat gifstof as ontsmettingsmiddel gebruik het en daarmee miljoene hoendereiers vergiftig het.

Die besmetting het tot gevolg dat miljoene eiers vernietig moes word weens die gevaar van vergiftiging wat gebruikers kan opdoen.

Produsente wat moontlik die spuitstof gebruik wat die bestanddeel fipronil bevat, word besoek, en een van die gebied se veeartse is ook besoek.

Die ondersoekers wil egter nie enige inligting verskaf oor watter produsente besoek is nie, en ook nie enige inligting vrystel oor wat moontlik gevind is nie.

In Nederland word verskillende plase besoek en geboue nagegaan om vas te stel of die verbode middel gebruik is as ontsmettingsmiddel.

Nederland het in ’n verklaring gesê die ondersoek word as gesamentlike aksie met België uitgevoer, maar wou ook geen verdere besonderhede verstrek nie.

Politieke ontleders sê dit is die grootste skandaal wat nog ooit in die landbou omgewing van Europa ondervind is, en miljoene hoendereiers moes vernietig word om te verseker dat niemand daarvan eet nie.