Eierkrisis in Europa lei na hof

Die landbou organisasie, Boerebond, wil nou skadevergoeding eis teen die skuldiges wat daarvoor verantwoordelik is dat miljoene hoendereiers van winkelrakke verwyder moes word.

Die landbou organisasie het ook gevra dat die regering ondersteunende maatreëls moet instel.

Beramings dui daarop dat boere miljoene euro se verliese het weens die onverantwoordelike optrede van instansies wat wederregtelik ’n insekdoder gebruik het om hoenders of hulle woonplekke te bespuit.

Die Boerebond het die skade op meer as tien miljoen euro geraam, en die vermoede bestaan dat die bedrag kan verdubbel.

Miljoene hoendereiers is besmet met die insektemiddel wat ’n gifstof, fipronil, bevat wat hoog toksies is en die mens se lewer en niere kan beskadig.

Landbou deskundiges sê die miljoene eiers wat besmet is, en saam met onbeskadigde eiers van die rakke verwyder is deur winkeliers, is waarskynlik die punt van die ysberg.

Anne-Marie Vangeenberghe, die amptelike woordvoerder van die Boerebond se die skade kan selfs meer as honderdduisend euro beloop vir ’n enkele boer, en daarom sal skadevergoeding geëis moet word.

Produsente is gevra om die Boerebond se hande sterk te maak en hulle steun te gee, terwyl pogings aangewend word om ook die owerheid se steun te kry.

Kenners meen die hofsaak kan tot vyf jaar sloer, en die opspoor van skuldiges gaan baie moeilik wees, wat meebring dat talle boere swaar verliese gaan lei.

Winkels in Europa, veral in Duitsland, Nederland, Frankryk, België en Brittanje moes derduisende eiers van die winkelrakke verwyder uit vrees dat eise teen hulle ingestel kan word deur verbruikers.