Duur skool slegs vir Xhosas en Engelse

As ‘n Afrikaanse skool dalk ‘n plek of twee beskikbaar het, word daar dadelik Engelstalige leerlinge daar ingedruk, met die eis dat die skool aanvanklik dubbelmedium moet word, wat lei tot ‘n uiteindelik eentalig Engelse skool. Daar is kwansuis nie plek vir eksklusiewe taalskole nie.

As ander taalgroepe betrokke is, geld ander maatstawwe.

Dit blyk uit ‘n situasie in Tulbach in die Wes-Kaap.

Leerlinge van ʼn oorvol Afrikaanse skool in Tulbagh moet in asbeskamers skoolgaan terwyl ʼn nuwe skool wat teen R71 miljoen net buite die dorp gebou is en slegs Xhosa en Engels as voertaal gebruik, half leeg staan aangesien die gemeenskap van Tulbagh oorwegend Afrikaanssprekend is.

Jaco Prins, die VF Plus se organiseerder in die Wes-Kaap, sê dat volgens die webwerf van die DA-beheerde Wes-Kaapse onderwysdepartement is daar plek vir 1 250 leerlinge in die nuwe skool met sy meer as 28 verskillende klaskamers. Omdat daar egter so min Xhosasprekende leerlinge in en om Tulbagh is, is daar tans net sowat vyfhonderd leerlinge in die skool, en baie van hulle word met busse van elders aangery.

Prins sê daar is groot ongelukkigheid onder die gemeenskap van Tulbagh. Hulle sê Afrikaanssprekendes maak 95% van die gemeenskap uit en dat die departement se eerste prioriteit moes wees om hul kinders uit die gevaarlike omstandighede van die asbesskool te verwyder.

Volgens die gemeenskap is baie beloftes oor die jare gemaak dat die asbesskool vervang sou word, maar dit het nooit gebeur nie. Daar is ook groot ongelukkigheid oor die Wes-Kaapse onderwysdepartement wat volgens die gemeenskap nie met hulle kommunikeer oor die aangeleentheid nie.

Prins sê dit is ʼn vermorsing van geld om so ʼn groot en duur skool vir uitsluitlik Xhosa- en Engelssprekendes te bou en ander leerlinge sodoende op grond van taal die reg te ontsê om daarvan gebruik te maak. Hy sê dit is ook totaal onaanvaarbaar dat leerlinge enigsins nog in ʼn asbes skool moet skoolgaan.

Foto: Die splinternuwe halfleë skool wat gereserveer word vir Xhosa en Engelssprekende leerlinge