Duitsland en Viëtnam in diplomatieke rusie

Duitsland en Viëtnam verkeer tans in ’n hewige diplomatieke rusie nadat ’n Viëtnamese politikus en sakeman ontvoer is terwyl hy aansoek om asiel in Duitsland gedoen het.

In reaksie op die bekendmaking dat die politikus, Trinh Xuan Thanh, ontvoer is, het Duitsland ’n senior diplomaat van Viëtnam uit die land gesit.

Die Duitse minister van buitelandse sake, Sigmar Gabriel, het die naweek gesê Duitsland oorweeg ook verdere optrede teen Viëtnam.

Die 51-jarige Viëtnamese politikus het aan die einde van Julie spoorloos verdwyn uit Berlyn, en kom skielik ’n week later na vore in Viëtnam, wat die vermoede skep dat hy deur Viëtnamese beamptes ontvoer is.

Trinh Xuan Thanh het blykbaar ’n hoë politieke posisie in Viëtnam se kommunistiese party gehad voordat hy na Duitsland uitgewyk het.

Duitsland meen die ontvoering is soortgelyk aan wat gedurende die jare van die Koue Oorlog ondervind is, en daarom sal sy betrekkinge met Viëtnam heroorweeg word.

Ooggetuies sê hulle het gesien hoe die politikus deur ’n vrou genader en in ’n motorvoertuig met ’n Tsjeggiese nommerplaat gedwing word.

Tydens die G20 beraad in Hamburg, het die Viëtnamese premier, Nguyen Xuan Phu, aangedring by kanselier Angela Merkel dat die politikus aan sy land uitgelewer moet word.

Nguyen Xuan Phu word glo deur die Viëtnamese gereg gesoek oor beweerde bedrog van nagenoeg 140 miljoen euro.

Foto – Trinh Xuan Thanh.