Brittanje sal nie 40 miljard betaal

Die Verenigde Koninkryk verwerp die inhoud van koerantberigte waarin beweer word dat die land bereid sal wees om 40 miljard te betaal vir uittrede uit die Europese Unie.

Volgens die jongste berigte het die Britse eerste minister, Theresa May, se woordvoerder in Downingstraat ontken dat die Britte bereid sal wees om sodanige bedrag te betaal.

Brittanje is glo van mening dat die finale bedrag rondom die onderhandelingstafel beredeneer sal word tot ’n wedersydse ooreenkoms bereik is.

Die hoë bedrag van 60 miljard euro wat die Europese Unie genoem het, sal nie deur Brittanje aanvaar word nie, en die finale bedrag sal sekerlik met ’n handelsooreenkoms gepaard gaan.

Die berigte wat vroeër verskyn het oor die bedrag word deur die regering as ’n “onjuiste spekulasie” bestempel en onaanvaarbaar vir die Britse regering en die kiesers wat ten gunste van Brexit gestem het.

Die Britse minister van buitelandse sake, Boris Johnson, het verlede maand in die parlement gesê die EU “kan gaan fluit” as hulle dink Brittanje gaan baie geld betaal vir uittrede.