ANC rebelle gejag

Die ANC is woedend op die party se lede wat tydens die geheime stemming in die wantrouemosie teen die president, ten gunste van Zuma se verwydering gestem het.

Lang messe word in die party skerp gemaak teen die sogenaamde rebelle.

Aangesien die stemming geheim was, sal hulle met geen absolute sekerheid kan sê wie hoe gestem het nie.

Insgelyks word daar ook vermoed dat sekere opposisielede teen die mosie gestem het, wat beteken dat selfs meer ANC-lede as wat aanvanklik vermoed is, vir die mosie gestem het. Dit maak dit dus ‘n feitlik onbegonne taak om alle “skuldiges” op te spoor.

Indien die partyleiding daarin sou slaag om van die rebelle, waaronder waarskynlik Pravin Gordhan en Derek Hanekom tel, ontslae te raak, sal dit die Zuma-kamp verstewig deur sy lojaliste in die rebelle se plekke te sit.

Op die sosiale media word intussen lyste gesirkuleer met die name van moontlike rebelle daarop. Selfs die naam van die ANC se hoofsweep kom daarop voor, saam met die naam van ‘n voormalige LP wat reeds geruime tyd nie meer lid van die parlement is nie.  Dit help dus nie juis om die chaos op te los nie.