Oor zombies en dergelike idiote

Aan die een kant word ‘n radio aanbieder van Lotus FM summier in die pad gesteek nadat hy (tereg) gesê het dat die land se “leier” vir hom soos ‘n zombie klink.  Persoonlike gevoel en standpunt tel dus nie meer nie, en hy is die soveelste voorbeeld van iemand wat oorloop van frustrasie van wat in die land aangaan, wat daarvoor moet boet met sy werk.

Aan die ander kant is daar die uitspraak van ‘n swart landdros in die Kaap, Daniel Thulare, wat sê die herhaalde uitspraak “Fuck white people” (ja, kom ons noem die ding by die naam in plaas van sterretjiestaal ‘f***’) is nie haatspraak of rassisme nie, maar die uitdrukking van kuns.

Daar is dus ‘n verskil tussen vrye meningsuiting in kuns, en vrye meningsuiting op ‘n persoon se private sosiale media profiel. Beide is sigbaar en toeganklik vir die publiek. Dit kan tog niks anders wees as ‘n sotlike onderskeid wat getref word, veral as dit teen blankes gebruik kan word.

Netso die besluit van Lotus FM om hulle omroeper, nogal geen blanke, af te dank omdat hy ‘n korrupte, onbekwame en arrogante partyleier (Zuma se toespraak was as partyleier by ‘n ANC-geleentheid – hy het nie daar opgetree as president van die land nie) aangespreek het omdat dié nie eens behoorlik Engels kan praat nie.  Ravi Govender se presiese woorde was: “So pas ’n zombie Zuma op die nuus gehoor ’n toespraak lewer. ‘n Slagting van die mooi Engelse taal . . . Onopgevoede wese. Selfs die ander sot Mugabe praat baie beter.”

Dit kos hom sy werk, terwyl hy dit nie oor die lug uitgesaai het nie, en terwyl hy in wese die ANC aangeval het. Heel duidelik is die hele SABC nie net die His Master’s Voice van die regering, wat hom finansieel aan die gang hou nie. Dit is duidelik dat die SABC die mondstuk van die ANC is, en enige kritiek teen dié inhalige bende is strafbaar met ‘n sosiale dood.

Dit herinner enigsins aan die grappie wat destyds oor PA Botha vertel is. ‘n Man verskyn voor die hof op twee klagte nadat hy in die straat geskree het “PW Botha is ‘n idioot, PW Botha is ‘n idioot…” Sommer vinnig word hy op die een klagte gewaarsku en ontslaan, en op die ander klagte lewenslank tronk toe gestuur. Heel verbouereerd vra hy wat dan die twee klagtes is. “Op klagte een, dié van naamskending omdat jy PW Botha ‘n idioot genoem het, word jy skuldig bevind en gewaarsku en ontslaan. Die tweede klagte is dat jy ‘n staatsgeheim verklap het, en daarvoor sal jy lewenslank moet sit.”

Dié inhalige bende wil net vat en steel. Die jongste sotlike steel-besluit van hulle, is om die Reserwebank te nasionaliseer.  Net daarna tuimel die rand verder, en het hulle seker gemaak dat die internasionale graderingsmaatskappye die land se ekonomie nog verder gaan afgradeer, met die ekonomiese gevolge daarvan vir die hele land se bevolking.

Hulle het mos al gesien wat gebeur na sotlike kabinetskommelings, en nou word ‘n ekonomies sotlike voorstel weer ‘n keer gemaak.

Ons as Afrikaners moet net oppas dat ons nie ook uiteindelik as zombies of sotte beskou gaan word nie. Zombies as ons net voortgaan soos normaal en maak of dit ons nie raak nie. Sotte as ons enigsins voortgaan om hierdie bestel te onderhou, op welke wyse ook al.

Die Spur-debakel het gewys hoe kan Afrikaners en hulle geesgenootlike anderstalige blankes, stilweg kan wys waartoe hulle in staat is. Stem met die voete en bly weg, en dwing hulle so om op ons terme te gesels of op te tree.

Dit kan op velerlei terreine gedoen word. Vandag grens dit aan sotterny om nog enigsins die ANC-uitsaaier, die SABC, aan die lewe te hou deur hulle TV-lisensies te betaal. Netso kan Afrikaners eerder met enige ander redery vlieg as SAL of enige van sy filiale.  Die HNP-leier het onlangs voorgestel dat Christene hulle skoolfonds moet weerhou nadat enkele ateïste dit reggekry het om ‘n hof te oortuig dat Christelike skole nie meer toelaatbaar is nie. Neem volkseie arbeid in diens waar enigsins moontlik, ondersteun ‘n groeiende volksekonomie, en moet nie enige vrywillige oorgawe maak aan sotlike wetgewing wat ingestel word nie. In die meeste gevalle het die bewind nie meer die vermoë om al hulle wette en regulasies af te dwing nie. Ons moet ons vrees vir moontlike vervolging, eerder verruil vir vrees vir ondergang. Dan sal ons anders na sake begin kyk.

Laat ons ook ons eie sakelui ondersteun, ons boere direk ondersteun buite die inhalige markte en middelmanne om. Kom ons hou op om mekaar voor die volksvreemde howe te daag, en aanvaar die Regslui vir Afrikaanse arbitrasieselsel.

Kom ons werk ons vry van zombies en sotte!