Woedende boere eis arrestasie van Coligny plaasbrandstigters

Die naweek nog het die premier van Noordwes, Sputla Mahumapelo, nog sy mond vol gehad oor blankes en het hy opruiende praatjies op ‘n begrafnis gemaak. Maar toe die hel wat hy help aanblaas het, inderdaad losbars, doen hy skielik ‘n beroep op kalmte.

Hierin is hy ondersteun deur Flip Buys van Solidariteit wat verklaar het dat daar nie rede tot paniek in Coligny is nie.

Net nadat Pieter Doorewaard en Phillip Schutte, wat daarvan verdink word dat hulle verantwoordelik is vir die dood van Matlhomola Jonas Mosweu, in die landdroshof in Coligny op borgtog vrygelaat is, het die geweldpleging begin en drie huise is verwoes, waaronder ‘n plaashuis..

Landdros Magaola Foso het borgtog van R5 000 elk toegestaan aan Doore­waard Schutte  en gesê nie een van die beskuldigdes het vorige veroordelings of hangende sake teen hulle nie, en dat hy van mening is dat die staat in dié stadium nie ’n sterk saak teen hulle het nie, en dat die hof nie gyselaar gehou sal word deur ‘n oproerige gemeenskap nie.

Intussen het ‘n openlike swart burgerlike organisasie die staat gevra om teen die borgtog te appelleer.

Intussen is TLU SA woedend dat ‘n onbetrokke boer se plaashuis afgebrand is, en eis dat die skuldiges onmiddellik opgespoor en gearresteer moet word.

TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes, sê dat sulke optrede absoluut nie geduld kan word nie. “Dit is verregaande dat ‘n bende gewoon reg in eie hande neem, en dit nogal terwyl die slagoffer niks met die hele hofsaak te doen het nie. Dit kom bowendien op minagting van die strafregstelsel.”

Mnr. Meintjes eis dat die polisie die dader op staande voet moet opspoor en toesluit, en aangesien hulle skynbaar geen respek het vir die regstelsel nie, moet hulle daarom ook geensins in aanmerking kom vir borgtog nie.

“Intussen moet die regering kennis neem dat geen wetsgehoorsame landburger hoef toe te sien hoe sy lewe en eiendom bedreig of vernietig word nie, en as die regering en sy veiligheidsmagte nie kans sien om wet en orde te herstel en te handhaaf nie, moet hulle nie huil as gemeenskappe dan noodgedwonge na hulle eie veiligheid sal omsien nie,” sê mnr. Meintjes.