Wêreld se duurste oorbelle opgeveil

Die wêreld se duurste paar oorbelle, wat onder meer beskryf is as die Apollo en Artemis Diamante, is pas op ’n eksklusiewe veiling verkoop vir £45 miljoen.

Die eienaardige van die twee pragstukke is dat hulle nie soos gewoonlik, identies aan mekaar is nie, maar wel heel verskillend is.

Juwelier deskundiges het egter saamgestem dat die twee oorkrabbertjies “eg spesiaal” is, en in ’n “klas van hulle eie” beskou word.

Apollo is ’n 14,5 karaat blou diamant gesny, geslyp en gepoleer in ’n peervormige fatsoen, terwyl die ander een, Artemis, ’n 16 karaat intense pienk diamant is.

Die twee stukke is afsonderlik opgeveil, en Apollo is verkoop vir £33 miljoen en sy stalmaat vir £12 miljoen.

Beide juwele is deur dieselfde anonieme koper opgeraap tydens die veiling wat in Genève gehou is, en sal waarskynlik nie gou aan ’n dame se ore ’n hangplekkie vind nie.

Beide die pragtige diamante is afkomstig uit Suid-Afrika.