Turkye kritiseer VSA oor Koerde steun

Die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, het die Verenigde State skerp gekritiseer vir hulle benadering om Koerdiese vegters in Sirië te gebruik teen die terroristebewegings soos die Islamitiese Staat.

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het vir die eerste keer van aangesig tot aangesig met die Turkse president verkeer tydens sy besoek aan Washington en die Wit Huis.

Tydens ’n inligtingsessie met die media, het beide leiers probeer om die verslegtende verhouding tussen die twee lande te temper, maar president Erdogan het deeglik van die geleentheid gebruik gemaak om sy verskil oor die Koerde te beklemtoon.

Die Turkse regering het sterk beswaar gemaak toe die Trump-administrasie bekend gemaak het dat hulle van plan is om die Koerdiese vegters in Sirië met beter wapentuig toe te rus om die Islamitiese Staat te beveg.

President Erdogan het gesê dit is onaanvaarbaar dat die Koerdiese vegters as ’n bondgenoot beskou moet word, aangesien dit in stryd is met die internasionale ooreenkoms wat vroeër aangegaan is.

President Trump het nie gereageer op die uitlating nie, maar weer Amerika se onderneming bevestig om die Islamitiese Staat te beveg.

Die twee leiers het ook oor die moontlike uitlewering van die Turkse pastoor, Fatthullah Gulen gepraat wat volgens president Erdogan die brein agter verlede jaar se mislukte staatsgreep is.

Foto – President Erdogan van Turkye