Terroriste rig chemiese wapensel op

Die Amerikaanse Inligtingsdiens is blykbaar daarvan oortuig dat die Islamitiese Staat (IS) terroriste besig is met die oprigting van ’n nuwe chemiese wapensel nadat hulle vorige een platgevee is tydens lugaanvalle.

Na wat berig is, word die eenheid saamgestel uit spesialiste afkomstig uit Sirië en Irak wat klaarblyklik in die vallei van die Eufraat tussen Mayadin en Al Qaim gevestig word.

Die IS-leier, Abu Bakr al Baghdadi, asook duisende IS-terroriste en simpatiseerders is in die gebied woonagtig,  wat dit die mees moontlike plek maak om so ’n eenheid op te rig.

Die gebied word glo reeds as die terroriste se nuwe “hoofstad” beskou nadat die stad Raqqa onder hewige lugaanvalle onderwerp is en vegtende regeringsoldate dit bykans onmoontlik gemaak het vir die terroriste om langer die stad te verdedig.

Onder leiding van Amerika het die Internasionale Koalisie geweldige druk toegepas op die terroriste in Raqqa, en die vermoede bestaan dat hulle vir die rede na die vallei uitgewyk het en dit as hul nuwe hoofsentrum beskou.

Kolonel Ryan Dillon het aan die media gesê hulle is bewus daarvan dat die IS terroriste in staat is om chemiese wapens te vervaardig, en huiwer ook nie om dit te gebruik nie, daarom wil die koalisiemagte vinnig toeslaan om hulle uiteindelik te vernietig.