Provinsiale soustreine loop

Nasionale tesourie het in sy vierde kwartaalverslag oor provinsies se begrotings in 2016-17, onthul dat ver meer as die helfte van die geld gaan vir salarisse.

Intussen eis staatsamptenare ‘n verdere salarisverhoging wat ver bo die amptelike inflasiekoers is.   Terwyl die amptelike inflasiekoers stewig onder 7% is, eis amptenare ‘n buitensporige 12%, wat beteken dat tesourie se syfers binnekort nog slegter sal lyk.

In Noord-Transvaal stoom die soustrein die sterkste waar 69,2% van sy totale begroting aan staatsamptenare se salarisse uitbetaal word.

In die Oos-Kaap kry amptenare 63,4% van sy totale begroting aan salarisse, in Natal is dit 61,8%, in Oos-Transvaal 59,5%, en selfs in die DA-beheerde Wes-Kaap gaan 53,1% van sy totale begroting aan amptenare se salarisse.

Daar word dus deur die bank gekyk na amptenare se welstand, terwyl dienslewering ooglopend aan die agterste finansiële speen suig.