Oud FBI-hoof lei ondersoek na Russe se inmenging

Die Amerikaanse minister van justisie het ’n voormalige FBI-hoof, Robert Mueler, aangestel om die ondersoek te lei na moontlike Russiese betrokkenheid in die afgelope Amerikaanse presidentsverkiesing.

In die afgelope weke het talle vrae ontstaan oor die Trump-verkiesingspan se moontlike betrokkenheid met Rusland en is die onderwerp op die spits gedryf nadat die president die FBI direkteur, James Comey, op kort kennisgewing afgedank het.

Die optrede van president Trump het die vraag laat ontstaan of die Amerikaanse demokrasie wel is soos wat dit voorgegee word, veral toe Comey later beweer het dat Trump hom versoek het om die ondersoek te laat vaar.

Comey het ook beweer dat hy op die TV kanaal moes verneem dat hy afgedank is, en eers later sy amptelike brief van ontslag gekry het.

Hoë lui van die Demokratiese Party asook Republikeine het daarop aangedring dat ’n afsonderlike komitee saamgestel word wat op onafhanklike wyse die ondersoek sal doen na moontlike Russiese inmenging in die verkiesing.

Die Amerikaanse staatsekretaris van justisie, Rod Rosenstein, het in ’n brief geskryf dat die VSA dit aan sy burgers verskuldig is om ’n spesiale aanklaer aan te stel wat onafhanklik sal optree “sodat die burgers volledige vertroue sal kry in die finale uitkoms van die ondersoek”.

Verskeie parlementariërs beweer dat president Trump se versoek aan James Comey om die ondersoek teen adviseur Flynn te staak, neerkom op ’n obstruksie van die gereg, en word in ’n ernstige lig gesien.

Robert Mueller is enkele dae voor die tragiese gebeurtenis van 11 September 2001 ingesweer as FBI-direkteur en het die amp beklee tot in 2013.

Foto – Robert Mueller