General Motors dalk net eerste maatskappy wat onttrek

Na die skoknuus dat General Motors sy bedrywighede na 90 jaar in Suid-Afrika gaan staak, word daar gegis watter sakereus die volgende gaan wees wat Suid-Afrika se rommelekonomie gaan verlaat.

Alhoewel GM nie self direk redes vir sy onttrekking gegee het nie, word algemeen aanvaar dat dit is omdat die land se ekonomie reeds afgegradeer is na rommelstatus en dat verdere afgraderings verwag word.

Suid-Afrika se arbeidswetgewing is ook van die mees werkgewer onvriendelik in die wêreld, met vakbonde wat klokslag ontwrigtings en stakings afdwing.

Waarskynlik wil GM ook gebruik maak van pres Trump van Amerika se aansporingsmaatreëls vir maatskappye om eerder in Amerika te belê.

VF Plus beskou General Motors se onttrekking as “een van die eerste groot gevolge van die ANC se ekonomiese oorlogverklaring teen Suid-Afrika”.

Die party sê dit is nie verbasend dat ʼn maatskappy soos GM uit die land onttrek nie aangesien dit geruime tyd reeds duidelik is dat groot maatskappye uiters ongemaklik is met die ANC se retoriek van radikale ekonomiese transformasie en uitsprake oor onteiening van eiendom.

Sekere van GM se bedrywighede gaan deur Isuzu oorgeneem word, maar die lot van GM se agentskappe oor die land is nog onbekend. Dit is ook nog nie duidelik hoeveel mense hulle werk gaan verloor nie, maar onderhandelings oor afleggings het reeds met werknemers begin.