Franse kabinet – mengsel van links en regs

Die nuutverkose Franse president, Emmanuel Macron, het die nuwe regeringskabinet aangekondig, wat bestaan uit ’n vreemde mengsel tussen sosialiste en konserwatiewe lede.

In ’n poging om die groot politieke verdeeldheid in Frankryk uit te wis, het president Macron begin deur ’n konserwatiewe eerste minister, Edouard Philippe, aan te stel, en selfs sover gegaan as om ’n Belgiese burger as minister aan te wys.

Die 68-jarige sosialis, Jean-Yves Le Drian, is die minister van buitelandse sake, met die waarskynlike hoofdoel om te verseker dat Frankryk voortdurende steun aan die Europese Unie en die hervorming daarvan sal verseker.

Die ander vreemde aanstelling is die 52-jarige dame, Sylvie Goulard, wat vanaf Brussel ingevoer is as minister van verdediging.

Die merkwaardige is dat Macron ewe veel mans as vroue aangestel het in die kabinet, om daarmee ook te poog dat kiesers ’n groter aanvaarding sal openbaar, veral met die komende parlementêre verkiesing op hande wat tot hede sy grootste nagmerrie is.

Die regse Bruno Le Maire (48) van die Republikeinse Party, wat ook ’n Duitssprekende kabinetslid is, sal die septer swaai as minister van ekonomiese sake, waarskynlik omdat hy ’n aanhanger is van die Duits-Franse bande wat oor dekades die twee lande verbind het.

Waarnemers wys daarop dat die aanstellings gemaak is ter versterking van sy La République en Marche om die komende verkiesing met groter gemoedsrus in te gaan.

Die nuwe kabinet bestaan uit nege mans en nege vroue, maar daar is reeds bedenkinge onder konserwatiewes omdat hulle nie volgens hul ondersteuningsbasis verteenwoordig is in die kabinet nie.

Politieke ontleders is egter in vertwyfeling oor hoe doeltreffend die kabinet kan saamwerk as in ag geneem word dat sosialiste, konserwatiewes, vroue en mans, ou veterane en jong belhamels die Franse koets moet trek na ekonomiese voorspoed en ’n nuwe Franse eenheid.

Foto – President Macron (L) en premier Philippe