Brasilië maak gereed vir vlugteling instroming

Die minister van verdediging in Brasilië, Raul Jungmann, het bevestig dat die land gereedmaak om derduisende vlugtelinge uit die honger geteisterde Venezuela te ontvang en te huisves.

Hy reken daar is reeds etlike duisende mense op die grens wat enige dag kan besluit om na Brasilië oor te stap, en dan moet alles gereed wees om die mense te huisves, het hy gesê.

Jungmann het president Temer Donderdag ingelig dat tienduisende mense uit Venezuela verwag kan word om na Brasilië te stroom in die volgende weke, en daarom gereed moet staan om hulle te huisves en selfs van noodsaaklike lewensmiddele sal moet voorsien.

Tans stroom sowat 6 000 mense uit Venezuela daagliks oor die grens om voedsel en medikasie te koop, om later die dag weer terug te keer na hulle woonhuise, maar die moontlikheid dat hulle nie kan terugkeer nie, word ’n al groter moontlikheid.

Verlede maand het Brasiliaanse polisie waargeneem dat vroue en kinders uit Venezuela op strate in die Brasiliaanse stad Manaus, rondgaan en bedel vir kos en medikasie.

Foto – Minister Raul Jungmann