ANC moet sy hande van die regbank afhou

Terwyl hy ‘n beeld voorhou dat hy die howe respekteer, is die regering inderwaarheid besig om die regbank te ondergrawe.

Die beskuldiging kom van dr. Corné Mulder, hoofsweep van VF+.

Hy sê waar die publiek nog tot ‘n groot mate vertroue het in die regbank, het die ANC-regering reeds daarin geslaag om die geloofwaardigheid van die wetgewende- en uitvoerende gesag te ondermyn.

Dr. Mulder het die Sassa- en Omar Al-Bashir-aangeleenthede as voorbeeld genoem en gesê die ANC het die uitspraak van die hof in dié gevalle openlik geminag. Hulle het nie gedoen wat die howe hulle gelas het om te doen nie.

“Daar is tans ʼn fel politieke stryd in die land aan die gang en dié geveg beweeg nou na die howe. Die howe wil nie betrokke raak nie. Dis nie die taak van ʼn hof om hierby in te meng nie.

“Die Grondwet van Suid-Afrika maak dit baie duidelik in sy aanhef dat die land se waardes gesetel is in die Grondwet en die onafhanklikheid van die regbank en artikel 2 van die Grondwet bepaal dat enige wet wat hiermee strydig is, ongeldig is.

“Die geskiedenis sal wys dat die land se wetgewende gesag, die parlement, die land gefaal het. Maar dit is nie die hele parlement nie. Dit is die regerende party wat sy meerderheid gebruik en misbruik het om die uitvoerende en regsprekende gesag te ondermyn.

“Die VF Plus sal wil sien dat die regbank se hand gesterk word en dat dit vir hom moontlik is om voort te gaan met sy goeie werk,” sê dr. Mulder.