20-jarige in graad 11 rand onderwyser aan

‘n Volwasse man van 20 jaar oud, maar wat tans eers in graad 11 (standerd 9 in ou terme) is, het ‘n onderwyser by sy skool aangerand.

Die voorval het gebeur by die Matatane High School in Dalton, Natal.

Die aanleiding tot die gebeure was, dat die onderwyser sy skootrekenaar vir ‘n oomblik op die grond neergesit het, waarop die “leerling” daarop getrap het. Toe die onderwyser hom daaroor aanspreek, het hy die onderwyser aangerand. Skynbaar was dit ernstig genoeg dat ander onderwysers die betrokke onderwyser te hulp moes snel.

Die leerling is huis toe gestuur, en die mondige man moes sy ouers saam terug bring skool toe.

Daar is ooreengekom dat die ouers die skootrekenaar sal vervang, en as die seun voor die skool die onderwyser om verskoning sal vra, sal daar geen strafregtelike klagte teen hom aanhangig gemaak word by die polisie nie.