VSA bly staan by bondgenote

Amerika sal by sy bondgenote staan in tye van ’n krisis, en sal ook in die tyd sy verantwoordelikheid nakom teenoor Suid-Korea terwyl die Noord-Koreaanse regering “roekeloos” optree.

Dit is die boodskap van visepresident Mike Pence sowel as die Amerikaanse minister van verdediging, Jim Mattis aan die regerings van Suid-Korea en Japan.

Visepresident Pence het Suid-Korea besoek te midde van die noordelike buurland se dreigende houding teenoor Amerika en Suid-Korea.

Minister Jim Mattis het sy boodskap aan die regering van Japan oorgedra tydens sy afgelope besoek aldaar, en die versekering gegee dat die VSA sal opstaan teen enige vyand wat sy bondgenote bedreig.

Die spanning is aan die oplaai sedert president Trump die regering van Pyongyang gekritiseer het oor hulle kernwapen program.

Visepresident Pence het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die manskappe op die Ronald Reagan vliegdekskip toe te spreek en gesê Noord-Korea is ’n ernstige en gevaarlike bedreiging vir vrede en veiligheid in die Asiatiese en Stille Oseaan gebied.

Die visepresident het ook besoek gebring aan Japan en die land se eerste minister, Shinzo Abe, weer verseker van volgehoue ondersteuning.

Intussen het minister Jim Mattis ook besoek gebring in die Midde-Ooste en daarmee die gebied ingelig oor die jongste stand in die Koreaanse skiereiland.