Trump word tot kalmte gemaan

Terwyl president Donald Trump van Amerika se aansien drasties toegeneem het onder Amerikaners na die groot bom in Afghanistan gegooi is teen die terroriste, het verskeie lande die president gemaan tot kalmte.

Sowel Rusland as Sjina en ook Japan het die Verenigde State tot kalmte gemaan in die konflik met die kommunistiese Noord-Korea.

Al drie lande het dieselfde vrees openbaar met hulle eendersluidende versoek om nie militêr in te gryp nie, maar wel alles moontlik te doen op diplomatieke vlak om die krisis te ontlont.

Die Russiese minister van buitelandse sake, Sergej Lavrov, het in Moskou tydens ’n perskonferensie gesê Rusland hoop nie Amerika gaan weer eensydig optree soos wat hulle in Sirië gedoen het nie.

Hy het bygevoeg dat die VSA met militêre ingryping in Noord-Korea, ’n weg van gevaarlike risiko volg.

Die Sjinese minister van buitelandse sake het gesê die VSA se militêre ingryping sal ’n “uiters gevaarlike toestand” skep.

Japan het as getroue bondgenoot van Amerika, by monde van die premier Shinzo Abe gevra dat die krisis op diplomatieke vlak beredder moet word deur optimale druk toe te pas op Noord-Korea.