Theresa May hou blitsverkiesing

Die skielike aankondiging deur die Britse eerste minister, Theresa May, dat ’n vervroegde algemene verkiesing in Junie gehou word, het Britse kiesers vir ’n wyle tot stilstand geruk.

Tydens die aankondiging het die premier uitgewys dat ’n vervroegde verkiesing gehou word om enige twyfel uit die weg te ruim oor die roete wat Brittanje moet volg met die uittrede uit die Europese Unie.

Sy het beklemtoon dat Brittanje nou sekerheid moet kry oor waar sy kiesers hulle skaar en dat stabiliteit nodig is. Die geskil met Skotland oor uittrede uit die EU moet ook besweer word, en daarom is ’n vervroegde verkiesing nodig.

In ’n eerste meningspeiling wat gedoen is, word premier May se verkiesing beskou as ’n reuse oorwinning vir die Konserwatiewes terwyl die Arbeiders Party hulle grootste nederlaag in die gesig staar sedert die Tweede Wêreldoorlog.

Theresa May het vroeër by herhaling gesê ’n vervroegde algemene verkiesing sal nie oorweeg word nie, maar die vermoede bestaan dat die Britse kabinet haar tot ander insigte gebring het.

Foto – Premier Theresa May