Tesla bou elektriese vragmotor.

Miljardêr, tegnoloog, ruimtevaart deskundige, en hoë tegnologie motor fabrikant, is alles in een man, die Suid-Afrikaans gebore Elon Musk, opgesluit.

In ’n mediaverklaring van die afgelope naweek het Musk bekendgemaak dat die Tesla motorfabriek nou beplan om ook ’n elektries aangedrewe wipbak vragmotor te vervaardig.

Hy sê die eerste prototipe toon dat die ontwerp “buitengewoon goed funksioneer” en dat daar nou ernstig gewerk word aan die volgende vlak om die vragmotor te vervaardig.

Tesla het reeds internasionale erkenning vir sy reeks elektriese motorvoertuie wat nie net tegnologies suksesvol is nie, maar ook as luukse motors beskryf word.

Benewens die bekende Tesla “Roadster” wat nou ook ’n nuwe baadjie kry, word die eerste Model X motors later vanjaar vrygestel.

Die vragmotor sal egter nog ’n geruime tyd deur die ontwerpers beplan word en sal na verwagting eers oor twee jaar in produksie kom.

Die Tesla fabriek bou ook batterye vir elektriese motorvoertuie, en het ’n reuse aanleg waar sonpanele vervaardig word.