Stort Islamitiese Staat terreurbende in duie?

Een na die ander vernietigende aanval op die Islamitiese Staat (IS) en die gevolglike dood van verskeie leiersfigure, het daartoe gelei dat die terroristegroep dit nou oorweeg om onder Al Kaïda in te skakel.

Die moontlikheid van ’n “alliansie” of algehele inskakeling by Al-Kaïda is nie uitgesluit nie, sê visepresident Ayad Allawi van Irak.

Die gesprek tussen die leiers van die twee terroristegroepe volg nadat die troepe van Irak groot welslae gehad het teen die terreurgroep in die stad Mosoel.

Allawi het glo in ’n onderhoud gesê hy het binnekring inligting ontvang dat die “onderhandelings tussen die twee groepe reeds begin het”.

Volgens berigte het die IS leier, Abu Bakr Baghdadi en die Al Kaïda verteenwoordiger, Ayman al Zawahiri, reeds met samesprekings begin.

Kenners wys daarop dat dit ’n duidelike teken is dat die Islamitiese Staat ’n nekslag gekry het in Iran, en met die swaar verlies wat hulle in Sirië en Afghanistan gely het, word dit duidelik dat die terreurgroep geen werkbare alternatief het as om in Al Kaïda opgeneem te word nie.

Gedurende 2004 het ’n groep tot stand gekom en hulleself Islamitiese Staat genoem nadat hulle weggebreek weens ideologiese verskille van Al Kaïda, en het selfs in verskeie voorvalle teen die Al Kaïda groep geveg.

Die vermoede bestaan egter dat Al Kaida streng voorwaardes sal stel, wat mag beteken dat die twee groepe nie verenig nie, maar slegs beter gaan saamwerk.