Spanning verhoog tussen EU en Turkye

Die spanning is aan die toeneem tussen Turkye en die Europese Unie nadat die land in ’n referendum ’n ja-stem uitgebring het vir Grondwetlike veranderings wat die huidige president in staat stel om tot 2029 te regeer.

Lidlande van die Europese Unie (EU) sê die wending in Turkye is ’n doodkis spyker in die land se demokrasie.

President Erdogan het ook gesê ’n referendum gaan gehou word om die doodstraf heringestel te kry, en wil selfs ’n referendum hou om die Turke se mening te toets oor lidmaatskap van die EU.

Intussen het leiers van opposisiepartye gevra vir ’n hertel van stemme, wat glo gesien word in die lig van vals stembriewe wat ook getel is.

Lidlande van die Europese Unie het egter gevra dat alle gesprekke oor moontlike lidmaatskap van Turkye, onverwyld gestaak moet word deur die bestuur van die Europese Kommissie.

Politici regoor Europa het tandeknersend kritiek gelewer oor Turkye se jongste optrede en is die vrees uitgespreek dat Europa verder verdeeld kan raak weens moontlike meningsverskille.

Die opvallende is dat geen Europese land die Turkse president geluk gewens het met sy skraal oorwinning wat deur talle lande bevraagteken word nie.

Foto – President Erdogan